hemel & see boeke

Briewe Van Wyk Louw deur J.C. Kannemeyer


Briewe van W.E.G. en N.P. van Wyk Louw

deur J.C. Kannemeyer

Hardeband,576 bladsye

ISBN  978-0-9870022-2-8

R260,00











Die briefwisseling tussen Van Wyk en W.E.G. Louw vanaf 1941 tot met Van Wyk Louw se dood in 1970 strek oor ’n periode van bykans dertig jaar. Die korrespondensie tussen die twee broers, waarby ook enkele briewe van Truida Louw aansluit, beslaan ’n totaal van 226 briewe, poskaarte en telegramme en foto’s ingesluit.



RESENSIE



Briewe van W. E. G. en N. P. van Wyk Louw 1941–1970.

J. C. Kannemeyer (red). 2011.

 

Resensie deur Johan Anker

Tydskrif vir Letterkunde

 

"Ek het die gevoel gehad, daardie Saterdagaand en Sondagmôre in April, dat ons nog lank nié uitgesels is nie. Laat dus spoedig weet dat ons planne kan maak.” So eindig W. E. G. Louw se laaste brief aan sy broer, N. P. Van Wyk Louw, op 12 Junie 1970.

 

Met die lees van hierdie briewe is dit ook die besef waartoe die leser jare daarna kom: die gesprek tussen die broers en hul onderskeie nalatenskappe tot die Afrikaanse kultuur en letterkunde is nog lank nie beëindig nie.

 

Briewe van W. E. G. en N. P. van Wyk Louw 1941–1970 is soos Ek ken jou goed genoeg (Protea Boekhuis, 2004) geredigeer en van ’n inleiding voorsien deur J. C. Kannemeyer. Die briefwisseling is in 1939 gestaak toe die broers albei in Kaapstad gewoon het, maar hervat op 20 September 1941 met W. E. G. Louw se verhuising na Johannesburg en duur voort tot met Van Wyk Louw se dood op 18 Junie 1970. Hierdie korrespondensie bestaan uit 226 briewe, poskaarte en telegramme oor ’n periode van amper dertig jaar. Die bundel is volgens die voorwoord ’n produk van die kursus in die Edisiewetenskap aan die Departement Afrikaans en Nederlands aan die Universiteit van Stellenbosch en deur verskeie werkgroepe voorberei.

 

Die voetnote met inligting oor persone, gebeure en historiese agtergrond is besonder funksioneel om ’n reeks verwysings te verklaar en konteks te verskaf.

 

Die leser word deurlopend getref deur die volledige korrespondensie per brief, soos aanvanklik die bladsye inligting oor toneel-opvoerings en later die administrasie van Standpunte. Die onderbroke aard van die korrespondensie is ook opvallend, met die verskonings vir lang onderbrekings soos ’’n refrein deur hierdie samestelling. Van Wyk Louw skryf byvoorbeeld op 17 Desember 1941: "Beste Gladstone, Ek laat wag deesdae net so lank op ’n brief as jy, maar ek was regtig nog aanmekaar besig.” Soms word daar ook verwys na die traagheid om sekere werk afgehandel te kry: "Ek is eintlik bang om aan jou te skrywe, want ek weet hoe dit daar gaan—maar hoe lyk dit met die stukkies vir die kinder-ensiklopedie?” (14 Augustus 1943).

 

In teenstelling daarmee is daar die opregte meelewing en gedeelde vreugde met persoonlike nuus oor geboortes, troues, aanstellings en verjaarsdae. Die genot van vakansies wat saam deurgebring kan word en die gepaardgaande sinvolle gesprekke, spreek ook duidelik uit heelwat briewe. Aanvanklik word aandag bestee aan die uitruil van inligting oor die werksaamhede van verskeie toneelgeselskappe, die sukses daarvan en ook die kritiese bespreking van opvoerings. Die erns van die betrokkenheid van die Louws by die kultuurlewe van die Afrikaner spreek uit hierdie belangstelling en die tyd daaraan gewy.

 

Tussenin is daar egter ook die kleinlike rusies en selfs onverdraagsaamheid teenoor ander medewerkers op die kultuurakker, soos die Nienabers. Dit is ook duidelik dat die Louws geen geringe dunk het van hul eie intellektuele vermoëns nie. W. E. G. Louw se stryd om die Afrikaanse skool, P. J. Olivier, in Grahamstad tot stand te laat kom, sien hy as sy hoogtepunt van sy jare aan die Rhodes Universiteit in die Oos- Kaap met sy "klein, bekrompe, koloniale Britse gees” (24 Augustus 1953).

 

Terselfdertyd is ’’n ander behoefte wat uitgespreek word in die briewe die noodsaaklikheid van ’n beter verhouding tussen Engels- en Afrikaanssprekendes, ’n ideaal wat voorlopig altans in die wiele gery word deur die stryd om republiekwording. Van Wyk Louw is egter, in sy eie woorde, nie verskriklik bekommerd oor die referendum (1960) oor republiekwording nie: "ek glo nie dit gaan ons probleme oplos nie: nié ons probleme met die Sap-opposisie nie [...] en seer sekerlik nie ons rasseprobleme nie” (25 Januarie 1960). Hy het ook (vanuit Johannesburg) die volgende beswaar teen die datum 31 Mei: "maar om jou groot feesdag aan so ’n koue datum vir ewig vas te lê (en ’n nat datum in die Boland)”.

 

Daar word wel soms verwys na die gebeure van die Tweede Wêreldoorlog, wat nog tot 1945 sou duur, maar dit is meer die interne stryd tussen Nat en Sap, tussen die oorloggesindes en die teenstanders daarvan, wat aandag kry. Selfs hulle ouers verstaan skynbaar nie hul ywer vir die Afrikanersaak en die belangrikheid van die taal in dié stryd nie: "Ek glo dat die oumense in hul hart ’n groot minagting het vir die soort werk wat ek en jy doen (dit is een van die dinge wat ek hulle nou die dag gesê het). Ek glo dat dit vir die Sap onmoontlik is om hierdie soort werk in Afrikaans as van belang te beskou” (my kursivering, 11 Desember 1944). Die lojaliteit teenoor die Nasionale Party en die nasionale gedagte skemer sterk deur, maar ook die onvergenoegdheid met politieke leiers en hul leierskap—veral Verwoerd loop deur onder skerp kritiek.

 



Besoek ons blog


Hemel & See Boeke sal jou kommentaar waardeer.


NOU BESKIKBAAR

Ingrid Jonker - A Poet’s Life

by Petrovna Metelerkamp



The first comprehensive biographical publication on the life of this young South African poet Ingrid Jonker who became an icon and a legend. Ingrid Jonker drowned at the age of 31.

'She was both a poet and a South African. She was both an Afrikaner and an African. She was both an artist and a human being. In the midst of despair, she celebrated hope. Confronted by death, she asserted the beauty of life.'


Nelson Mandela