hemel & see boeke

Dryfhout deur Mêrie Scheepers


Dryfhout & opdrifsels

deur Mêrie Scheepers

Sagteband, 222 bladsye

ISBN 978-0-9870022-0-4

R130,00
















‘n Skoolsielkundige neem agt uitgesoekte matrieks vir ‘n hele vakansie na ‘n eensame strand. Is hulle net ‘n groep bedorwe rykmanskinders uit ‘n élite skool? Nie as jy van nader kyk en luister nie. Dit is hierdie kinders se enigste kans om só te herstel dat hulle matriek kan skryf en daarna in ‘n gewone samelewing, saam met ander stukkende mense, kan funksioneer.


Dié seevakansie sal bepaal hoeveel van die oorspronklike kosbare hout bruikbare dryfhout sal word en hoeveel opdrifsels vyf en twintig jaar later by hulle reünie sal uitspoel. ‘n Jeugroman, ook vir volwasse lesers.



RESENSIE



Uit ‘gewone’ dryf les na bo

 

Cas van Rensburg

Rapport - 2012-06-30

 

Die titel Dryfhout en opdrifsels wek dadelik vermoedens van "pienk literatuur”, iets in die genre van ’n Patience Strong of ander saligsprekende skryfsels. Terselfdertyd ontlok die skryfster se naam, Mêrie (Afrikaans vir "Mary”) Scheepers, allerlei stuitige gedagtes. Mêrie (eintlik Annamarie Mouton van Lill) rym nogal met onder meer flerrie en herinner aan "merry” en "merriment”.

En jou wrintie, tussen dié twee uiterstes glip daar ’n boek uit wat tegelykertyd leersaam is én vermaak, as dit die regte woorde is vir dié leeservaring.

Dryfhout en opdrifsels is die verhaal van twee onderwysers aan ’n rykmanskool wat agt probleemkinders in hul matriekjaar tydens die April-vakansie na ’n afgeleë plek langs die see iewers aan die Weskus neem.

Die boek begin stotterend omdat elke kind se agtergrond en probleme eers in afsonderlike gedeeltetjies uitgestippel word. Dit is heeltemal onnodig omdat hul probleme verder in die boek heel natuurlik saam met die vloei van die verhaal na vore kom. Hierdie gedeelte van die boek is ook hinderlik weens ’n oordrewe stereotipering.

Daar is die gay seun, die dogter wie se pa haar graag op alleenritte neem, die predikant-pa wat sy dogter die duisternis in slaan, die dronk pa, die arm ma en vrou van ’n weglooppa, en so aan. Hierdie gedeelte herinner ’n mens eintlik aan daardie rympie waaroor deesdae so gefrons word van die "tien kleine watsenaampies op ’n ry”.

Tog is dit ook maar goed hierdie gedeelte is nie gesny nie, want Mêrie Scheepers beskryf hier ’n paar erotiese tonele wat vir niks in die Afrikaanse literatuur hoef terug te staan nie. Gits, seks is inderdaad uit die Afrikaanse kas wanneer sy beskryf hoe ’n ontluikende nimfomaan haar ontklee en... gaan lees gerus self.

Verder aan vlot die boek goed en verloop die verhaal soos ’n mens verwag het. Daar is trane, woede, angste en twyfel. Hulle leer mekaar beter verstaan en verdra, asook dat ander ook maar worstel.

Dit is uiteraard moeilik om agt karakters volledig in te klee, maar uit die oordrewe stereotipering kry ’n mens darem ’n begrip van elkeen se gemoedstoestand en persoonlikheid.

Een karakter, Adri, het egter vleis om die lyf. ’n Mannetjiesagtige meisie met ’n kortbroek en T-hemp waaronder haar borste styf vasgebind is. Sy is aggressief en handig met haar vuiste. Almal dink sy is lesbies, maar eintlik is sy nie. Dit is verfrissend om te sien hoe hierdie robuuste mens die eerste tree na vrouwees gee sonder om haar unieke persoonlikheid in te boet.

Daar word nie vertel of die vakansie enige uitwerking op hul matriekuitslae gehad het nie, want hier kom ’n verrassende kinkel in die verhaal.

Dit is skielik 25 jaar later en hulle kom weer op dieselfde plek byeen vir ’n reünie.

Hierdie laaste vier hoofstukke is die beste en leersaamste in die boek. Twee kon dit nie maak nie (die gay outjie is byvoorbeeld vroeg dood).

Die ander het hul lê in die lewe gevind. Ná die emosioneel vernietigende kinderjare, die fisieke mishandeling, die probleemouers en ander kwetsende dramas het hulle toe ook maar in die sleur van die gewone lewe beland.

Daar was verhoudinge, hulle is getroud, het kinders gekry, geskei, huisvroue geword wat die pennies moet omdraai of ’n bedorwe rykmansvrou wie se lewe so vervelig is dat sy aan allerlei gewaande skete ly.

Terloops, laasgenoemde was die klein nimfomaan!

Uiteindelik is hulle maar net gewone mense met die middelklas-neuroses, vooroordele, bekommernisse en lewensangste wat kenmerkend is van die grootste deel van die samelewing.

As ’n mens nou so daaraan dink, skemer daar inderwaarheid tog ’n bietjie pienk deur, want die boek wíl ’n mens ’n les leer.

Cas van Rensburg is die skrywer van onder meer Die prinses in elke vrou.

 



   Besoek ons blog


Hemel & See Boeke sal jou kommentaar waardeer.




NOU BESKIKBAAR

Ingrid Jonker - A Poet’s Life

by Petrovna Metelerkamp



The first comprehensive biographical publication on the life of this young South African poet Ingrid Jonker who became an icon and a legend. Ingrid Jonker drowned at the age of 31.

'She was both a poet and a South African. She was both an Afrikaner and an African. She was both an artist and a human being. In the midst of despair, she celebrated hope. Confronted by death, she asserted the beauty of life.'


Nelson Mandela