hemel & see boeke

Ingrid Jonker - Gesprekke

Gesprekke oor INGRID JONKER

deur L.M. van der Merwe

Sagteband, 256 bladsye

Vierde druk 2007

ISBN 978-0-620-37159-9

R140,00









Lees wat sê die mense wat Ingrid werklik geken het.


'n Nuwe boek oor die immer gewilde Ingrid Jonker. GESPREKKE OOR INGRID JONKER bevat persoonlike herinneringe van Ingrid se suster Anna, haar psigiater en vriende soos Jan Rabie en Marjorie Wallace, W.A. de Klerk, Berta Smit, Uys Krige en André P. Brink.

Gesprekke wat dertig jaar gelede deur dr. L.M. van der Merwe, kliniese sielkundige, op band opgeneem is, is deur Petrovna Metelerkamp in boekvorm verwerk. Dit werp 'n nuwe lig op die lewe en tragiese sterwe van die jong Ingrid Jonker.

"Ingrid Jonker, die meisie, die mite, die mens. Wie was sy werklik? Oor dekades gryp dié enigmatiese literêre nimf die volk se verbeelding aan. So talentvol en tog so tragies . . . . nou geredigeer deur die vaardige hand van Petrovna Metelerkamp.


Gesprekke oor Ingrid Jonker, met die pragtige voorblad deur Ezanne Newton-Johnson, net wat dit beloof om te wees. Die leser word saamgenooi tot in van ons mees besproke kunstenaars se voorkamers."

Mariana Loots, Die Burger

"Dis asof die leser saam met die onderhoudvoerder en sy bandmasjien in die voorhuis van Afrikaans se letterkundige geeste gesels . . ."

NOU BESKIKBAAR

Mits dese wil ek vir jou sê - Briewe van Hennie Aucamp


Petrovna Metelerkamp


Ingrid Jonker - A Poet’s Life


Persoonlike briewe van Hennie Aucamp aan familie en vriende, ’n boek waarna Aucamp se duisende aanhangers al lank uitsien. Briewe aan o.a. Amanda Strydom, Breyten Breytenbach, André P Brink, Elzabé Zietsman, Margaret en Johan Bakkes, Elize Botha, Elisabeth Eybers. Twaalf bladsye foto’s.

L M van der Merwe



Pieter van Zyl, Huisgenoot"

Die grootste waarde van dié publikasie is dat dit die leser toegang bied tot inligting wat vandag in vele opsigte onbekombaar sou wees. En danksy die boekstawing van dié gesprekke, vind sy nou ook 'n plek in die gedagtes en verbeelding van talle lesers."

Thys Human, Beeld








                      L M van der Merwe

RESENSIE


Jonker as mens – nie net digter, ikoon of selfmoordenaar



Sommige mense meen genoeg is genoeg. Lizz Meiring vra selfs in haar jongste solo-stuk, Bizzie Lizzie, of ’n ander digteres nie asseblief nou tog ook ’n beurt kan kry nie. Ingrid Jonker was per slot van rekening, soos selfs Jan Rabie in dié nuwe boek oor haar verklaar, ’n uitstekende digter, maar werklik nie "gróót” nie.


En sou sy, in alle eerlikheid, soveel aandag gekry het as sy nie selfmoord gepleeg het nie? 

In ’n groot mate is die antwoord hierop in Gesprekke oor Ingrid Jonker, wat op verskeie vlakke ’n unieke dokument is. Die skrywer, dr. Lucas van der Merwe, is ’n sielkundige wat in die laat 1970’s ’n doktorstesis oor Jonker aangedurf het en daarvoor onderhoude gevoer het met verskeie van haar vriende, haar suster, haar psigiater en ’n werkgewer. 

Al dié onderhoude is op band opgeneem en Gesprekke is ’n transkripsie hiervan met, hier en daar, kommentaar deur Van der Merwe. Van die mense met wie hy gepraat het, is Anna Jonker, Jan Rabie, Marjorie Wallace, Berta Smit, Freda Linde, W.A. de Klerk, Uys Krige en André P. Brink.

Omdat elke gesprek opgeneem is, klink elkeen se eiesoortige "stem” duidelik: van Smit se stugge teruggetrokkenheid tot Bill de Klerk se diarree. Brink vertel Ingrid het niks van Bill gehou nie. En dit verbaas jou allermins wanneer jy hoor wat hy (Bill) glo oor haar kwytgeraak het: "Een van die ongevalle in die proses van die Afrikaner se middestandwording is Ingrid Jonker.’’ 
Gonna! 

En so babbel Uys Krige weer meer oor homself as oor Ingrid.
Maar dan is daar onteenseglike juwele. Jy sal ver moet soek na ’n raker skets van die kywende egpaar Rabie, hoewel albei se siening van Ingrid opval as simpatiek en eg. 

Daar’s ook heerlike humor. So noem Marjorie Ingrid se man, Piet Verster, ’n "great beswymer” omdat hy flou geval het toe hy haar met iemand anders sien dans. 

Smit en Brink se bydrae is ook betekenisvol, maar dis Freda Linde se beskrywing van haar laaste ontmoeting met Ingrid wat ontroerend is. Veral om met Linde se gedig "Stroomgebied” kennis te maak wat sy ná Ingrid se dood geskryf het en berus op ’n gedig van J.B. Charles (pseudoniem vir Willem Nagel) uit die Nederlandse bundel Stroomgebied. 

Ingrid het Charles se gedig dikwels voorgelees. In een van die verse haal Linde hieruit aan:
"Verdrinken is vergeten worden en vergeven.
Is dit nie vir jou mooi nie –
Vergeten worden en vergeven?
Het is een oud, zeer heimwee overwinnen.”
Alles tot dusver baie mooi, maar wat ’n mens opval, is dat Ingrid Jonker se vriende – ondanks hul mooi woorde agterna – haar eintlik in die steek gelaat het. 

Niemand het regtig besef hoe erg haar finansiële penaries was nie, terwyl almal ook maar lugtig was vir haar moeilike persoonlikheid, intensiteit en emosionele afhanklikheid. 
Maar dit wil lyk of die groot verraad teenoor haar dié deur Anna Jonker en Jack Cope is. Dit is twee donker figure dié, indien nie heeltemal boos nie, en wie se invloed op haar verdere ondersoek verdien. 

Anna het stories by haar pa gaan aandra wat Ingrid se verhouding met hom nog verder versteur het en dít terwyl sy so ewe in Gesprekke vertel dat sy eintlik ’n soort moeder vir Ingrid was. 
Selfs die psigiater (wat om professionele redes anoniem bly), laat hom oor Anna se negatiewe rol uit. Dis ook beduidend dat Anna Jonker Van der Merwe probeer keer het om Gesprekke te publiseer.
In sekere kringe word Brink voorgehou as die skurk in die Jonker-verhaal, maar dit lyk eerder of Cope se gevoellose rol weer bekyk moet word – hy wat nogal in haar graf wou spring. Toe Ingrid hom vertel sy verwag sy kind, was sy reaksie: "Wat gaan jy daaromtrent doen?” 

Brink vertel ook dat Cope vir Ingrid ná seks uit die bed geskop het met die woorde: "Gaan kry vir jou ’n ander plek om te slaap.” 
Oor Ingrid se verhouding met haar pa is al baie gesê, maar in dié boek skemer dit deur dat ’n moederkompleks eweseer tot haar onstabiliteit bygedra het. So word haar gedig "Mamma is nie meer ’n mens nie” deur verskeie mense opgehaal. 
Brink vertel dat sy nie erg aan jong vriendinne gehad het nie, maar verskeie diep vriendskap-pe had met ouer vroue, soos Smit en Wallace, "wat haar amper met ’n soort moederlike slag gehanteer het”.

"Ingrid het nie net ’n vader gesoek nie, maar ook ’n moeder, soos wat sy nogal in my gevind het,” vertel Wallace. Toe sy Ingrid op ’n keer laat skilder het, het sy oor en oor dieselfde toneel geskilder: ’n ma wat wasgoed ophang met ’n kind wat aan haar rok hang. Brink beaam: "Sy het nie net ’n Pa gesoek nie, sy het ook ’n Ma gesoek.” 
Smit beken: "Sy het ’n moederlike gevoel in my wakker gemaak.”
Ingrid het die meisietjie gebly wat sy was toe haar ma in ’n gestig opgeneem en later oorlede is. Rabie, wat haar lyk moes gaan uitken, sê: "Eers in haar dood het sy volwasse gelyk.” 
Weens die afwesige moeder het Ingrid ’n gebrek aan ’n innerlike vroulike gesag gehad – ook dít verdien verdere ondersoek. 

Die waarde van Gesprekke lê in die laaste instansie daarin dat ’n mens vir die eerste keer met ’n mens gekonfronteer word en nié net met ’n digter, ’n ikoon of bloot ’n soort gevallestudie van ’n onmoontlik moeilike kunstenaar nie. 

Van der Merwe sê Ingrid het 33 jaar lank in hom ryp geword. Hy vra dat die verskillende weergawes van haar in dié boek ook in die leser wasdom bereik – "sonder om te oordeel. Almal wat in goedgesindheid aan Ingrid Jonker aandag gee, bring haar terug in die lewe sonder om haar te probeer vashou en laat haar dan toe om weer deur ons vingers te glip. Sy wou nooit vasgevang word nie.’’.
Verdrinken is vergeten worden? Klaarblyklik nie.

Cas van Rensburg is ’n skrywer van Jungiaanse boeke, dramaturg en joernalis.




Besoek ons blog


Hemel & See Boeke sal jou kommentaar waardeer.