posted by Petrovna on May 12, 2012 7:15 as ALGEMEEN
Beeld: 2012-05-05

Evette as kind en haar gesin.
Ysberg (s.nw): Hoe diep die liefde lê - deur Cas van Rensburg
In ’n huis teen die see woon die
akteur-kunstenaar-paar Marius en Evette Weyers. Op ’n dag toe Marius die
wasgoed moes was, het Cas van Rensburg gaan kuier en met Evette, soveel meer as
net "Marius se vrou”, gesels oor haar kuns, haar nuwe boek en die gediertes in
die dieptes van die see en die verbeelding.
Emoyeni. Dit is die naam van die huis waarin Evette en Marius Weyers in die
Kogelbiosfeer naby Hermanus woon. Dit is ’n saamgestelde Zoeloe- en Xhosa-woord
wat "in die wind” of "in die gees” beteken, en dalk gepas, want dit is hier dat
Evette haar beelde maak en Marius sy woorde leer en die kreatiwiteit dwarrel.
Vandag is dit egter windstil. Marius kom op die stoep langs met ’n
wasgoedmandjie in die arms.
Dié keer is die onus nie op hom nie, maar op Evette. Sý dagtaak wag in die
waskamer. Die honde kom eerste hek toe om te groet, en Marius sê: "Wag eers dat
hulle jou ruik.” Die groot rifrug, Tookwie (dit is ’n Khoi-woord vir
"donderende reën”), styg behoorlik bo die hek uit terwyl Paljas, ’n
straatnommer, onderlangs snuif.
Dan sit hy die wasgoed neer, maak die hek oop, groet en roep: "Evette!”
Evette is fyn gebeen, met oophemelblou oë. En die energie! Sy is soos ’n
bewende pyl in ’n styfgespanne boog. Die hele wêreld, van bo- tot onderaards,
is haar teiken. As sy nie bo-op die berg sit tussen wilde bobbejane wat vlooie
in haar hare soek nie, swem sy saam met otters, dolfyne en selfs ’n skaamhaai
in die baai. Nooit egter rus haar verbeelding nie, en elke ervaring word ’n
beeld of soms net ’n storie – vir Marius.
Haar boek oor haar wedervaringe, haar verhoudinge, die natuur- lewe en
kunstenaarskap het pas by die uitgewer Hemel en See verskyn. Wat die hart van
vol is... is deels dagboek, outobiografie en reisjoernaal. Bowenal is dit ’n
boek oor haar werk as kunstenaar, die skeppingsproses... en Marius. Die boek is
ryklik geïllustreer met foto’s van haar werk en van haar en Marius.
Marius ja, wat dié slag huisvrou speel. Sy lag en vertel dat vriende haar al
gevra het of sy nie omgee om altyd as "Marius se vrou” voorgestel te word nie.
"Nee, ek gee nie om nie. Ek ís sy vrou.”
’n Woord wat Evette miskien goed beskryf, is "drif”. Sy praat self in haar boek
van drif en noem dit ’n "evokatiewe” woord. Dit woordeboek sê drif beteken
onder meer ’n "sterk stroming” ("Daar is ’n drif in die weer” – die wolke word
voortgestu totdat dit reën) of hartstog.
Dít het sy in oormaat, ook vir Afrikaans. Met die intrapslag word daar sommer
al oor woorde gepraat. Evette speur graag die betekenis van woorde na, en
woorde en idiome dien dikwels as inspirasie vir haar beeldhouwerke. So was sy
lank begeesterd deur die woord "voet” waarvan sy die oorsprong doer in Sanskrit
gaan haal het en waarna sy beelde gemaak het met titels soos My hoed het voete
gekry.
Dit was haar pa, sê sy, wat haar kleintyd al laat verstaan het ’n mens moet lig
loop op hierdie aarde. Om hierdie rede het sy
dan ook "ekologiese” voete gemaak, soos voete met krane waaruit water vloei of
skoorstene wat dik rook die lug in stuur.
Sy voel deesdae ook sterk oor "voetsoolvlak-demokrasie”. "Kyk na ons Grondwet,
na menswaardigheid. Almal het die reg tot gewete, denke, geloof en mening.
Almal het enorme vryheid, maar ons speel ons is die stof in die hoek van die
kamer!”
Humor, beweer sy, is die uitweg, die sleutel. Daarom is daar soms baie humor in
haar werk, soos voetsole met pleisters. "Jy sal verbaas wees hoe ’n groot vraag
daar vir hierdie voete is.”
Net met Afrikaans moet jy nie speel nie. Sy vertel in Wat die hart van vol
is... van iemand wat op ’n keer na Afrikaans as ’n Hollandse patois verwys het
en van haar reaksie daarop: "Net daar, op die plek, word die leeuwyfie in my
wakker en ek brul die groot kat se brul: ‘Patois se gat! Afrikaans is mý taal.
Dit het ook op die Afrika-kontinent uitgekruip. Dis ’n beeldryke, selfstandige
taal vol van die grond, klippers en steiltes van ons land. Sy is dieprooi, met
die bloed en drif van Afrika.’ Daar is dinge wat nét in Afrikaans gesê kan word – oor hier wees
en hier voel!”
Dít is die drif waarvan vroeër gepraat is. Maar daar is ook stiller oomblikke,
soos wanneer sy haar "eers ’n ruk lank speen van woorde” ten einde beelde te
maak.
"Ek is vinnig en kwistig met woorde, maar wanneer jy ’n beeld maak, moet jy
swyg, want jy moet ’n konsep verbeeld en nie verwoord nie,” sê sy. "Ek het op ’n
dag besef die geskrewe taal is maar sowat 6 000 jaar oud, maar beelde en
uitbeeldinge is al 30 000 jaar oud.”
Die stiller oomblikke vind sy ook in die natuur – hoewel sy ewe driftig om die
bewaring daarvan kan
veg. Sy is in die Overberg bekend vir haar mening oor die plek van bobbejane in
die gemeenskap. Evette het agtergekom dat mense die streek se fynbos bewaar,
maar sy bobbejane as vyande beskou, en het toe ’n bewaringsaksie begin om mense
bewus te maak van die feit dat bobbejane al duisende jare hier woon.
"Die natuur is my oermatriks,” sê sy. Sy ken die see met sy buie intiem, ook
die plantegroei aan die kus en die seegediertes wat in poele skarrel of selfs
dieper, en gevaarliker, in die groot donker van die dieptes skuil.
"Ek het een keer, toe dit nogal stormagtig was en die water troebel, gaan swem
toe ek skielik ’n skerp pyn in my kuit voel. Dit was ’n jong haai. Hy het my
egter weer gelos, want hy kon sien hy is kleiner as ek, en ek het net daar
besluit ek swem agter hom aan, want anders sal ek nie ’n vrees vir haaie
besweer nie.”
Die see is vir haar belangrik, "want ek is ’n meermin”. "Nog voor my geboorte
het my ma al geweet ek was ’n meermin en dat ek nie uit die binnesee sou kom
voor ek nie die buitesee gehoor het nie,” skryf sy in haar boek. Daarin vertel
sy ook dat haar ma een nag net voor haar geboorte uit die kraam-inrigting
gesluip en met oop dye op die strand gaan lê het.
Evette was van kleins af aangewese op haar verbeelding. "Ek was in my jeugjare
op elf skole. Ons het baie rondgetrek, en as enigste kind was my verbeelding
dus my getroue maat,” vertel sy.
Dit is ook waarom sy eindelik ’n kunstenaar geword het, hoewel sy eers ’n graad
met wiskunde as hoofvak aan die Universiteit van Pretoria verwerf het en toe ’n
jaar lank wiskunde aan ’n wetenskapkollege in Pretoria doseer het.
"Wiskunde is vir my soos fantasie, jy werk met die oneindigheid.”
Die kunstenaar in haar het eintlik al veel vroeër ontwaak toe sy en ’n maatjie
kleintyd op ’n dag op ’n ou plaas gedwaal en op ’n ou vrugteboord afgekom het.
Dié het lank reeds onbewerk gelê, en die blare het kniediep onder die bome gelê
met vetryp waterpere wat afgeval het tussenin.
Dít het haar inspirasie geword. "Dié boord was my missie as kunstenaar. My
missie is om as kunstenaar soos ’n wind deur die vergete boorde van mense se
verbeelding te waai, sodat jy jóú waterpere hoor val en herinner word aan jou
eie verborge kreatiewe en geestelike oorvloed.”
In haar boek skryf sy: "Ons het almal vergete boorde van die verbeelding.
Elkeen van ons is inherent ’n kunstenaar en ons raak almal aan oneindigheid.”
Evette glo jong kunstenaars moenie bevange raak nie. "Hulle moet eers ’n klomp
dinge skep en dan besluit watter rigting hulle moet inslaan. Hulle moet ook nie
te heilig wees oor hul skeppinge nie. ’n Mens moenie jouself te ernstig opneem
nie. Jy het die vryheid om verkeerd te wees.”
Op die vraag watter van haar kunswerke haar gunsteling is of watter uitstalling
vir haar belangrik was, huiwer sy nie ’n oomblik nie. Dit was haar uitstalling
Meeting the Gods that We Harbour – A Celebration of My Friends en al die beelde
wat daarin ten toon gestel is.
"Die Amerikaanse filosoof Henri Thoreau het gesê ons sien buite ons net dít
raak was binne ons is. Dis ’n aanhaling so in my kraal. Wie is die gode wat ons
werklik ontmoet of raakloop? Sekerlik die mense wat ons liefhet en bewonder,
ons vriende en geliefdes, dié in wie ons die goddelike kan raaksien.”
Dit duur nie lank voordat ’n mens die teenstellinge in haar raaksien nie –
enersyds onderleg in die wiskunde, andersyds "betower” deur woorde en die
teater. Haar verbeelding loop oor, en tog respekteer sy die logika. Sy het ’n
helder, gemaklike lag, maar daar is ook oomblikke wanneer haar oë bewolk raak,
soos wanneer sy van haar pa, Evert Meyer, praat.
Hy het ’n groot invloed op haar lewe gehad en sy kom telkemale na hom terug, en
vertel onder meer dat naas die kwessie van ligte voetspore op ’n broos aarde,
haar pa haar ’n tweede belangrike ding geleer het: "Jy kan altyd van plan verander!”
"’n Mens moet nooit gestol voel nie, in jou huwelik of jou werk nie. Daar is
altyd baie ander moontlikhede.”
Hoe werk die verhouding tussen haar en Marius – twee kunstenaars saam in ’n
huis? Sou hulle ooit "gestol” voel?
Hoewel Marius tydens die onderhoud elders in die huis besig is, is hy tog
deurentyd teenwoordig. Sy naam spring telkens uit, en dit is meestal ’n
humoristiese verwysing. "Ons lag baie en praat,” vertel Evette.
Sy het Marius in die ou Breytenbach-teater in Pretoria ontmoet waar sy ’n plekaanwyser was
sodat sy die opvoerings gratis kon bywoon. (Evette was van haar vroegste
skooljare versot op die teater en veral op Shakespeare.)
Daarna het sy en die akteur mekaar op ’n dag op straat raakgeloop. Evette het
aan Marius se arm gevat "en daar was net weerlig”.
Op ’n grys, koue oggend kort daarna het sy besluit sy gaan vir hom kuier. "Tot
my verbasing het hy die deur oopgemaak en ons het heeldag gepraat.”
Dan erken sy: "Ek en Marius het uiteenlopende sienings oor baie dinge en ons
roei beslis nié aan dieselfde kant van die boot nie. Ons sit vas. Hy hou van
orde en ek is impulsief, deurmekaar. Tog leef ons al 38 jaar saam, sonder
konstante oorlog!”
Hulle is twee jaar ná hul ontmoeting in Londen getroud in ’n seremonie wat sy
in haar boek as "absurde teater op sy beste” beskryf.
Sy bars skielik uit van die lag: "Ek dink my grootste geskenk aan Marius sal
wees wanneer al die vurke, messe en lepels op ’n dag elk in hul eie vakkie in
die messegoedlaai lê.”
Dit is duidelik dat sy in sy loopbaan opgaan en hy in hare. In die boek is daar
’n opskrif "Verlief, verdiep, verlore” en daaronder skryf sy: "Marius is uit en
uit ’n gevoelsmens, met enorme volumes emosies. As akteur skep hy beeldhouwerke
uit emosie – hy verken elke nuanse van die emosie van sy karakters. As mens
leef hy emosioneel onbevange en instinktief. Selfs sy woede is enorm en
opwindend.”
Sy het eenmaal ’n beeld van ’n ysberg gemaak met die twee van hulle rug aan rug
bo-op terwyl hulle handpalms aan mekaar raak. "Menslike verhoudinge is soos
ysberge, nege tiendes is onder die water,” sê sy.
Sy het dié beeld Ysberg genoem, maar Marius het die titel verander na Hoe diep
die liefde lê.
- Cas van Rensburg is ’n skrywer van Onrus.

"Hy hou van orde en ek is impulsief, deurmekaar.
Tog leef ons al 38 jaar saam, sonder konstante oorlog!” sê Evette.
Die
kunstenaar-akteurpaar Evette en Marius Weyers woon naby die see in die
Kogelbiosfeer. "Ek is ’n meermin,” sê Evette.

Evette werk aan
Inheemse Kennis, met Marius wat fotograaf speel.
comments (0)
|
|
|