Bostaande
aanhaling is ’n voetnoot by ’n brief in Mits dese wil ek vir jou sê,
Briewe van Hennie Aucamp. Ná 60 boeke skryf Aucamp steeds met die hand.
Met hierdie boek word hy as gewaardeerde briefskrywer aan die woord
gestel. Dié keurige hardebandboek wat deur Petrovna Metelerkamp van
Hemel en See-boeke versorg en ingelei is, is gister op die US Woordfees
bekend gestel by wyse van ’n gesprek tussen Aucamp en die
digter-vertaler Daniel Hugo.
Die boek bestaan uit korrespondensie wat ’n verskeidenheid onderwerpe byeen bring, en is geskryf van 1958 tot 2011.
Op ’n vraag van Hugo verduidelik Aucamp die verskil tussen ’n brief en
dagboekinskrywing dat "vir ’n brief pas jy dit aan by die gehoor, by ’n
dagboek is jy op een ontvanger ingestel”.
Die briewe gaan
veelal oor skryfwerk, oor die kortverhaal, gedigte en liedtekste. ’n
Bykomende vonds van die brieweboek is die verduidelikende aantekeninge.
In haar voorwoord noem Metelerkamp dat vir Aucamp daar ’n simbiose is
tussen sy dagboeke en sy briewe, "nie net dokumente van sy lewensgang en
optekening van herinnerings nie, maar ook ’n groot stuk sosioliterêre
en sosiokulturele geskiedenis”.
Hugo het daarop gewys dat dit
danksy Aucamp se aandag aan die woordeskat van Afrikaans is dat sekere
woorde algemeen gangbare munt word.
"Ek het in ’n laat stadium,
in die negentigerjare, begin kopieë hou van briewe, vir ingeval die
brief nie opduik nie,” sê Aucamp. "In die negentigerjare het ek intenser
begin skryf, die akademie was verby en ek het gevoel ek wil die soort
briewe skryf aan mense wat dit toekom”. Die boek is ’n versameling wat
spreek van wat hy noem "briewe wat geskryf is om weer en weer gelees te
word”.
Die publikasie is belangrik vir die brieweboek in
Afrikaans, onder meer as ’n soort kulturele geheue. Dit sit die werk
voort wat gedoen is met briewe van onder andere Audrey Blignault, Peter
Blum, Uys Krige, WEG Louw en NP Van Wyk Louw.