hemel & see boeke



‘N BLYWENDE VREUGDE

Saamgestel deur Lynne Fourie en Marina Brink, met Petrovna Metelerkamp.


Hardeband, 394 bladsye

ISBN 978-0-620-40576-8

R220,00


Audrey Blignault
Audrey Blignault is een van die heel bekendste skrywers in Afrikaans. Vir ongeveer 50 jaar het daar gereeld nuwe boeke uit haar pen verskyn. In ‘n Blywende vreugde kan lesers vir die eerste keer haar persoonlike briewe aan vriende, familie en mede-skrywers lees. Sy skryf onder andere aan dr. Elize Botha, M.E.R., Hennie Aucamp, Ernst van Heerden en W.A. de Klerk oor dinge wat haar na aan die hart lê. Die briewe wissel van liriese aanhalings uit die poësie tot selfspot enskaterlag-stoute rympies en grappe. Wanneer geliefdes deur die dood weggeneem word, ontroer haar openhartige ontboeseming.


Die omslag van die boek is ’n foto van een van die skrywer se geliefde kledingstukke. En hoe gepas, want dink jy aan Audrey Blignault, dink jy rooi – en spesifiek aan die oulap se rooi wat mooi maak.

"Dit was ʼn groot voorreg, eintlik ʼn verruiming van menswees, om Audrey Blignault deur haar briewe te leer ken. En vir die liefhebber van die boek is dit manna!”

Petrovna Metelerkamp

Uitbundige lewe’ sonder donker geheim

Rachelle Greeff

Rapport, 16/05/2008


Oor die vierhonderd bladsye (gebind in hardeband), twee dosyn foto’s en meer as tweehonderd briewe van Audrey Blignault.

NOU BESKIKBAAR

Ingrid Jonker - A Poet’s Life

by Petrovna Metelerkamp



The first comprehensive biographical publication on the life of this young South African poet Ingrid Jonker who became an icon and a legend. Ingrid Jonker drowned at the age of 31.

'She was both a poet and a South African. She was both an Afrikaner and an African. She was both an artist and a human being. In the midst of despair, she celebrated hope. Confronted by death, she asserted the beauty of life.'


Nelson Mandela


Dié versameling briewe van Blignault – wat in Julie vanjaar 92 word – eggo nie net die skrywer se sprankelende skryfstyl en legendariese lewensvreugde nie, maar is ook ’n argief in die kleine van verbygegane tye en bekende figure uit die boekewêreld.


Die omslag van die boek is gegrond op ’n foto geneem van een van die skrywer se geliefde kledingstukke. En hoe gepas, want dink jy aan Audrey Blignault, dink jy rooi – en spesifiek aan die oulap se rooi wat mooi maak.


Haar briewe van oor ’n leeftyd is aan naaste familie en vriende, mense soos Elize Botha, Alba Bouwer, M.E.R, Hennie Aucamp en Ernst van Heerden. Jy kry liriese poësie-aanhalings, selfspot, gewaagde rympies en skurwe grappe. Net om in die volgende brief ten diepste ontroer te word wanneer sy uit haar hart skryf oor, byvoorbeeld, die dood van ’n geliefde.


RESENSIE


Audrey Blignault – die step-in en die Japanse waaier

Rachelle Greeff


"Audrey Blignault het begrip gehad van waar háár asem, haar insig, vandaan kom. Daarom het sy dié teksvers as begrafnisvers gekies: "Maar dit is die gees in die mens wat die mens insig gee, die gees wat van die Almagtige af kom …” (Job 32:8)


"Hierdie gees en insig gaan soos ’n fyn Japanse waaier oop in die gees van liefde, van kreatiwiteit, uithou, lewe, inspirasie, humor, droom, ervaring, terugveg: alles binne die veld van menslike ervaring. En ware menswees.”


Met verwysing na haar "fyn prosa”, sê De Villiers, "dit anker dikwels in die insig van die tema van liefde, versorging en in die gees van dankbaarheid”. Audrey was nie een vir "groot filosofiese” besprekings nie, maar vir die "eenvoud van liefde vir jou man, jou kind, jou vriende, jou taal, jou letterkunde, jou eiegoed, die skoonheid van die woord, altyd met ’n fyn klein boodskap ingeweef: dankbaarheid vir liefde wat jy kan ontvang en wat jy kan gee.


"Sy het derduisende mense, veral vroue, aangeraak met haar rubrieke, as redakteur van die Huisvrou en haar vele bundels essays. Sy het mense aangemoedig om te lees, leeskringe gestig, akademies saamgesels, maar altyd plat op die aarde gebly. Sy was gelukkig in haar eie vel omdat die gees van kreatiwiteit in haar was.”


Blignault, wat haar eerste man, Andries, onverwags in ’n motorongeluk verloor het, het ook die "gees van uithou” gehad. Al tref die rampe haar, het sy geglo, sal sy nogtans jubel.


"Sy het mense mildelik aangemoedig om te skryf en boeke op te neem. Sy’t onvermoeid boeke bespreek, nooit afgekraak nie. Wanneer sy aan my geskryf het, was daar altyd ’n klein vermaning: ‘Izak, moenie die poësie vergeet nie. Die poësie is die goue fluit.’


"Sy het ook die gees gehad van humor, en humor is insig. Jy moet kan lag, want die lag is ook heilig. En sy’t heerlik met haarself gespot, ook met haar lyf en haar step-in.


"Soos MER ’n moeder van die volk was, was Audrey ’n suster vir die volk, ’n suster vir elkeen, ’n vriendin, ’n helder ster. En ’n ster lei, soos in Bethlehem. Want die ster word op sy beurt gelei deur die gees van God, die gees van die Almagtige. Alleen die een wat hierdie waarheid verstaan, die een wat die insig het, kom iewers by ’n antwoord oor die geheim van lewe. Audrey het daarby gekom, en dit gekies as haar begrafnisteks.


"Jy was ons almal se suster, almal se ma, almal se maat. Jy was Audrey, uniek, want God het nie baie van jou soort gemaak nie. Ons groet jou. Ons sal soek na die gees in ons, die gees wat insig gee, die gees van die Almagtige.’’


De Villiers het afgesluit met, as saluut aan Audrey, die lees van die gedig "Voorspel

1950’’ uit Tristia van N.P. van Wyk Louw.


RESENSIE


Rapport - 2008-10-12

Einde van ’n goue era

Hennie Aucamp


Audrey Blignault was een van MER se "Kaapse kinders”, en soos MER was ook Blignault ’n gewer en ’n aangewer van raad, bowenal aan medeskrywers. Sy het bewustelik ruimte geskep vir talent, en op die wyse kultuur uitgebrei en help bestendig.


Met haar heengaan is ’n goue era in die boek- en tydskrifbedryf in Afrikaans afgesluit.


Sy het gees vooropgestel en nie sensasie nie; sy’t kultuur vooropgestel en nie geld nie.


’n Lewensgenieter, het Audrey Blignault haarself genoem – lief vir lekker kos, goeie wyn, ’n mooi rok, rooi naels, nóg ’n skildery teen die muur, vir musiek. En alles altyd aangevul met humor.


Saam met haar vriendin prof. Elize Botha drink sy laatnag Spaanse brandewyn en eet mince pies, anders "al wat kos is, sommer sjokolade en Barlings Better Bread en eat-sum- mor – de lot! Salige herinnering”.


Oor ’n stywe staatsbanket skryf sy in ’n brief: "Ek wens daar was ’n opskud-orkes wat ‘Boegoeberg se dam’ speel en die staatspresident en ek kap dit saam uit. Ek wonder of hy kan dans. Ek sweer Pik dans ’n bars hou!”

Terselfdertyd was die spirituele sy van die lewe haar erns.


Vir haar begrafnis het sy, volgens haar vriend Izak de Villiers, juis die Job 32-teksvers gekies (sien in meegaande storie) omdat dit een van die grootste tekste in die Bybel is.


Op die hoë Groote Kerk-preekstoel het hy gesê: "Dis asof Audrey saggies agter my lag en sê: ‘Toe, Izak, kyk wat jy met hierdie teks kan doen!’ ”


Ná die diens het I.L. de Villiers na Audrey se dogter, Marié Heese, gestap: "Wel, dis gedaan. Ek dink sy is tevrede” – asof die geliefde skrywer daar tussen die begrafnisgangers teenwoordig is.


So, glo ek, is dit met Audrey Blignault: sy sal tussen ons, in haar duisende boeke, teenwoordig bly.


* Petrovna Metelerkamp was jare lank ’n joernalis en is nou aan die stuur van Hemel & See Boeke.


RESENSIE


Die Burger - 2008-08-24

Lina Spies


Audrey Blignault se skryfloopbaan het begin by die joernalistiek. Vanaf 1950 het sy die rubriek "Uit die Dagboek van ’n Vrou” in ’n nuwe vrouetydskrif, Sarie Marais (nou Sarie), behartig en dit vir ruim 20 jaar volgehou.


Die gewildheid van die rubriek en die publikasie van ’n keur daaruit onder die titel In Klein Maat in 1955 moes ongetwyfeld by Blignault die besef tuisgebring het dat haar natuurlike medium waardeur sy haar aanvoeling en passie vir die woord tot uitdrukking kon bring die essay was.


Die vader van die essay, Michiel de Montaigne (1533-1592), wat vir Blignaut ’n voorbeeld was en vir wie sy graag en dikwels aanhaal, het sy essays gedefinieer as "pogings tot selfopenbaring”. Uit Montaigne se inleiding tot sy eerste essays haal Daniel J. Boorstin ’n uitspraak aan waaruit blyk dat Montaigne hom in sy essays aan die lesers wou voorstel as die mens wat hy werklik was: "This, reader, is an honest book . . . I want to appear in my simple, natural, and everyday dress, without strain or artifice . . . ” (The Creators)


Hoe nou verwant die essay aan die brief is, blyk uit die feit dat Montaigne uitdrukking moes gee aan sy behoefte aan selfekspressie en aan die gesprek met ’n geesgenoot ná die dood van sy boesemvriend Étienne de la Boétie. Indien ’n briefwisseling met die vriend moontlik sou gewees het, sou die essays nooit geskryf gewees het nie, het hy verklaar.


Die essay en die brief is inderdaad nou verwant aan mekaar. Naas essayis was Blignaut ’n leeftyd lank ’n ywerige briefskrywer.


Vriendskap was vir haar sino niem met geesverwantskap, en ook die veronderstelde leser vir wie sy haar essays geskryf het, was vir haar ’n geesverwant, iemand wat in haar gewoon menslike ervarings en haar lewensekstases kon deel. Sy het ’n groot korrespondensie volgehou met almal wat vir haar geesverwante was: familie, vriende, medeskrywers.


’n Keur uit haar briewe het pas verskyn, saamgestel uit die Blignaut-versameling wat bewaar word in die Dokumente-sentrum van die Stellenbosse Universiteitsbiblioteek. Die samestellers is Lynne Fourie en Marina Brink van die sentrum, en die uitgewer Petrovna Metelerkamp.


Metelerkamp het gesorg vir die keurige versorging van die bundel met kort begeleidende kommentaar oor belangrike gebeurtenisse in Blignault se lewe wat die chronologie van haar lewensloop en die publikasie-geskiedenis van haar bundels volg. Haar keuse van die bundeltitel, ’n Blywende Vreugde, is inderdaad ’n kernagtige samevatting van die motto van Blignaut se lewe en werk.


Ek wil my verstout om te sê die lesers van ’n skrywer se briewe lees dit altyd in die konteks van dié skrywer se oeuvre. Die leser gaan van die veronderstelling uit dat hy die mens agter die boek in sy brie we beter sal leer ken. Die aard van die essay is egter, soos Montaigne betoog het, selfopenbarend sodat die leser in Blignaut se briewe eintlik opnuut die mens ontmoet wat hy alreeds vanuit haar essays ken.


Die briewe is nie geskryf met ’n leser wat oor haar skouer gekyk het nie, soos die geval was met skrywers uit die 18de en 19de eeu wat altyd moontlike publikasie veronderstel en dus hul literêre credo’s gehandhaaf het. ’n Mens moet hier weer dink aan die titel van haar debuutbundel, In Klein Maat. Met dié titel het sy die aard van haar soort essay beklemtoon, naamlik dat dit gaan oor die alledaagse gebeurtenisse in die lewe van ’n vrou en dat dit nie pretendeer om om groot letterkunde te wees nie.


Maar waar die essays welverdiende literêre erkenning gekry het deur onder meer die toekenning aan haar van sowel die Eugène Marais- as die Hofmeyr-prys, moet ’n mens nie literêre verwagtings van die briewe koester nie.


Blignaut se gepubliseerde brie we is spontane, ongesensureerde geselsbriewe wat uit haar warm mens like hart gekom het. Miskien het sy die brief beskou as die draer van die goeie boodskap wat bedoel is om die ontvanger gelukkig te maak.


Sy erken self in ’n brief aan Elize Botha (27 Mei 1977) dat sy dalk makliker as ander mense kan sê: "Nogtans sal ek jubel.” Die teenpool van geluk wat die relativerende "nogtans” aan die jubeling verbind, ontbreek meesal in die briewe; daarom gee dit nie uitdrukking aan die menslike kondisie in sy volheid nie.


Nogtans sal al Audrey Blignaut se getroue lesers oor ’n halfeeu heen hulle verheug oor die toevoeging van hierdie briewebundel tot haar oeuvre.


Lina Spies is ‘n skrywer en letterkundige van Stellenbosch..



Besoek ons blog


  hemel & see boeke sal jou kommentaar waardeer.